Vuurtoring-oomblikke

Dasseneiland vuurtoringVanoggend kry ek myself vir ’n verandering vroeg genoeg uit die bed gesleep om te gaan draf. Halfses is dit nog pikdonker in Yzerfontein. Net die vroegste pendelaars se liggies brand hier en daar. Die strate is nog mistig, met ’n ligte bries van die suide af wat help om lug in my onfikse longe te kry.
Ek draf in die pad wat teen die see af loop. Om die een of ander rede is die straatligte af. Nee, nie beurtkrag hierdie keer nie. In die donker is net die wit van die branders aan my regterkant sigbaar, maar dan flits daar iets baie dieper die see in. Ek kyk, maar daar’s niks. Dan sien ek dit weer: net ’n enkele flits wat kom en gaan. Uiteindelik lig die mis oor my newelige brein en ek besef wat dit is: die vuurtoring op Dasseneiland, ’n stewige nege kilometer van die kus af.
Ek dink onwillekeurig aan al die stories wat ek al gehoor het van skepe en vissersbote wat koers verloor het en deur ’n vuurtoring se lig gered is. En dit tref my hoe maklik dit moet wees om in ’n stormsee die lig te mis. Jou aandag is dalk in die boot. Jy skep verwoed water uit, of gooi goed oorboord om die boot ligter te maak. Dalk is die sinchronisasie van die vuurtoring en die deining uit: As die lig flits, is jy onder in die trog, en as jy bo-op die kruin kom, skyn die lig anderkant toe. So as jy wel die lig sien, is dit wys om jouself so gou moontlik te oriënteer sodat jy jou koers kan aanpas.
Ek glo almal beleef van tyd tot tyd “vuurtoring”-oomblikke: daardie breukdeel van ’n sekonde wanneer jou lewe besonder duidelik afgeëts voor jou staan. Dit is partykeer asof die gordyn tussen hier en die ewigheid net so skalks weggetrek word, en jy ’n terloopse blik van die groter prentjie kry. Die aanleiding kan ’n besondere sonsopkoms, ’n frase in ’n boek, ’n groot verlies of blote “toeval” wees. Dalk is dit so eenvoudig soos ’n lied, ’n herinnering of ’n geur. God het ’n duisend verskillende maniere tot sy beskikking om jou aandag te trek. En dat Hy dit doen, is onbetwisbaar. Romeine 1 sê mense weet van God, want Hy wys vir hulle. Soos een skrywer dit stel: God knipoog vir ons.
Die vraag is: Hoe reageer ons op hierdie oomblikke? Reageer ons hoegenaamd? As ek moet bieg, is my eie reaksiespoed dikwels dié van ’n asmatiese luidier wat deur molasse probeer waad. Ek ooranaliseer, stel uit of val vas in die web van my eie ontoereikendheid. Maar vanoggend se vlugtige vuurtoringflits was ’n wekroep vir my om te reageer as ek die lig sien. Want as ek nie reageer nie, mis ek wat God wil hê ek moet doen, die “goeie werke wat Hy vir ons bestem het”, soos Efesiërs 2 dit noem. Ek mis die vervulling wat daarmee saamgaan. Ander mense ly oor my versuim. En kort voor lank dryf ek só ver weg dat ek dalk nooit weer die lig sien nie.
Daar is meer as een manier om die lig te mis. Ons kan “verlore verlorenes” wees wat nie eens erken dat die vuurtoring se lig die pad na veiligheid wys nie. Ons kan “geredde verlorenes” wees (of is dit nou “verlore gereddenes”?) wat op ’n intellektuele vlak erken dat die vuurtoring die regte pad aanwys, maar nie ons koers ooreenkomstig aanpas nie.
Maar wanneer die lig in jou donkerte kom skyn, wanneer dit jou posisie verlig en jy nie anders kan as om jou rigting volkome daaraan te oriënteer nie, dán is jy waarlik gered. En nie net is jou lot seker nie, maar jy kry die opdrag – en die voorreg – om ander se aandag op die lig te vestig. Nie op jou eie lig nie, want jy het geen, maar op God se lig wat jy weerkaats.
Hoe hoog is die deinings in jou lewe? Wanneer laas het jy ’n vuurtoring-oomblik gehad? Het jy al die lig gesien? En as jy dit gesien het, wat het jy daaromtrent gedoen?
Soos John Starnes sing in die gospel classic “The Lighthouse” (opgeneem in die dae toe voorsangers nog driestukpakke gedra het), Jesus is die vuurtoring op die heuwel. Hy is die Lig wat ons lewens verlig. Daar is geen duisternis in Hom nie. Hy plaas ons op die regte koers. En eendag sal Hy ons veilig hawe toe bring.

Nooi Jesus in – en nee, dis nie ’n “gospel pitch” nie

Hierdie is nie ’n “gospel pitch” of ’n “altar call” nie. Ons los dit vir ’n ander dag. Hierdie is ’n oproep om Jesus in te nooi in watter situasie ook al op hierdie tydstip die meeste bandwydte in jou kop opneem.

Ek lees op die oomblik ’n boek met die naam “Healing the Masculine Soul” deur Gordon Dalbey, ’n skrywer wat geroepe voel om hoofsaaklik met mans te praat. Dit is ’n boek met baie lae, en ek beveel dit sterk aan vir mans wat mans genoeg is om met hulleself te worstel, vir pa’s wat hulle seuns beter wil grootmaak, maar ook vir vroue wat hulle wederhelftes en seuns beter wil verstaan, en hulle eie pa se rol in hulle lewe wil ondersoek.

Healing the Masculine Soul

Ek wil in hierdie skrywe net een ding uitlig, en dit is ’n aspek van die skrywer se beradingstyl wat ek graag deel van my eie lewe wil maak. Die skrywer was vroeër voltyds in pastorale bediening en het in daardie hoedanigheid baie berading gedoen. Nadat hy die fokus van sy bediening na sy skryfwerk geskuif het, het hy hiermee voortgegaan. Hy haal dus in die boek ’n klomp gevallestudies aan waar hy of sy medeberaders met die kwessies waaroor hy skryf gekonfronteer is.

Een frase wat heeltyd in hierdie vertellings opduik, is hoe hy die persoon aanmoedig om Jesus in ’n spesifieke situasie, herinnering of emosie in te nooi. Dit kom meer as tien keer in die boek voor. Hier is enkele voorbeelde:

“When Jim had seen the pattern clearly, we prayed and invited Jesus to come into a memory of the parents’ fighting.”

“I asked Sam if he were willing to invite Jesus into that scene, and he agreed.”

“Bennett then prayed over his birth, encouraging Dave to imagine himself being born and to invite Jesus into the delivery room.”

Let op hoe die woord “invite” telkens figureer. Kom ek sê jou hoekom ek so daarvan hou.

In die eerste plek is die implikasie van die uitnodiging dat ek nederig bely dat ek nie die antwoorde het nie. Dit dwing my om van my selfgesentreerde troon af te klim en op te hou om Piet Plannetjies te wees. Ironies genoeg lê ’n groot deel van my genesing daarin om my eie ontoereikendheid te besef. ’n Mens staan stewiger met jou voete op die aarde as wanneer jy op ’n wankelrige stellasie probeer klim.

Ons almal het onsself al in situasies bevind wat ons liewer nie aan die groot klok wil hang nie. Dikwels was dit deur ons eie toedoen. As ek verleë is om daardie situasies met mense te deel, hoeveel te meer sal ek nie daarvan wegskram om Jesus daar in te nooi nie? Die waarheid is natuurlik dat Hy reeds daarvan weet, en dat Hy meer bereid is om ons van onsself te red as wat ons is om Hom te vra om dit te doen. Jesaja sê selfs ons beste dade is soos vuil wasgoed voor God, so hoekom dan nie maar alles deel nie? Niks skok Hom nie. Hy het reeds die straf gedra vir die ding wat ek probeer wegsteek.

Die feit dat ek Jesus innooi, impliseer ook dat ek die uitkoms van die situasie aan Hom oorgee. Ek probeer nie meer self uitkomste vervaardig nie, maar vertrou Hom om die bes moontlike langtermyn-uitkoms te voorsien.

Om dít te kan doen, moet ek Jesus ken en vertrou, en weet dat Hy dit goed bedoel met my. Ek sal immers nie ’n kwak vra om my te opereer nie. Net so gaan ek nie ’n delikate situasie aan iemand toevertrou as ek nie absolute vertroue in sy insig en vermoë het om iets daaraan te doen nie.

Daar is ook ’n sagtheid aan die woord “nooi” waarvan ek hou. Ek gooi nie my speelgoed en eis dat God onmiddellik die situasie uitsorteer nie. Dit sou in elk geval onvanpas wees nadat ek erken het dat Hy baie groter is as ek. Dit is ook nie nodig om op en af te spring nie. Jesus het belowe om op te daag as ons Hom nooi. Trouens, Openbaring 3:20 sê Hy staan reeds by die deur en Hy klop. Dit is ons wat te besig is om sy klop te hoor.

Wanneer ek my onredelike eise vir onmiddellike verligting prysgee, beteken dit dat ek erken dat ek dalk nog ’n rukkie in die situasie gaan sit. Die verskil is dat ek nou nie alleen sit nie, maar dat ek Iemand het wat meegevoel het met my, wat my kan troos en my kan raad gee. Dit is in hierdie “saam sit” – ek, my situasie en Jesus – dat die lig uiteindelik deurbreek. Daar is ’n Joodse gebruik, shiva, wat deel is van die rouproses. Dit behels dat die naasbestaandes van ’n afgestorwene sit, oor hulle verlies gesels en mekaar troos. Hulle hardloop met ander woorde nie weg vir die pynlike emosies wat die rouproses meebring nie, maar sit letterlik daarmee tot die swaarte lig. Dit is ’n kuns om met ongemaklike emosies te sit, maar as ons iemand het wat dit saam met ons doen, raak dit makliker.

Die laaste rede hoekom ek reken dit is ’n goeie idee om Jesus in jou situasie te verwelkom, is omdat Hy wel die antwoorde het wat jy soek. Ons dink dikwels aan Jesus as sagmoedig, liefdevol en barmhartig, maar dink jy ooit aan Hom as slim? En tog is al die kennis en wysheid van die heelal in sy Persoon gekonsentreer. Niks wat ontstaan het, het sonder Hom gebeur nie. Hy hou nou nog alles in stand. “Hy laat alles lewe,” sê een vertaling. As jy ’n geldprobleem het, en Warren Buffett bied sy onvoorwaardelike hulp vir jou aan – nie net om jou uit die tjips te kry nie, maar ook om jou beter toe te rus met die oog op die toekoms – hoekom sal jy dit weier? Jesus het die dood oorwin om Meester van die lewe te wees. Hy bied Homself vir jou aan. Hoekom sal jy Hom weier?

Nooi Hom in. Sit saam met Hom. En geniet Hom.